Search

Frazer Barry reviews BlitzKrieg by Chase Lutron


“…Was eers geduldig gewees maar toe regeer die bliksems

Hulle wil’ie kunste beheer maar wil’ie lewe vir’it…

Wees gerus, die Jirre gaan’ie skepe sink

Net sekere lede weet wat beteken die weerberig.

Die meesters van art is besig om wraak te neem

Breek alle sameswerings raak handgemeen

Afrikaans caveliers staan gereed

Ek sal val op my eie swaard die dag as ek my taal verneuk…”.


Chase Lutron het ’n swaar hart waarmee hy sy langverwagte album voorafgaan met hierdie E.P genaamd Blitzkrieg. Die strofe hierbo kom uit die song “Ronin” en dit is ’n perfekte beskrywing van die gees en emosie waarin die rymkletser beweeg. Ek het die E.P drie dae gelede in rou vorm, sonder finalmixing en mastering gekry. Dit het my ’n goeie idee gegee van wat die hart van die E.P behels. My eerste indrukke met die eerste luisterslag was, “sjoe dit is donker, swaar en dik met emosie gelaai”.

Soos wat ek deurgaans die materiaal op repeat gesit het, het die beelde van oorlog, bloed, missions om te leef en te oorleef stadig maar seker deurgebreek. Chase is op ’n mission en sy hart is vol skietgoed. Sy mond is soos ’n magasyn wat oozi’s, AK47’s en R4 rifle’s, punchline op punchline skiet. Swaar en effektiewe artillery word gebruik om stelselmatig die kwessies wat op sy hart is na die battle van die mind en die frontlines van die Rymklets domein en buite die rymkletsdomein te neem. In die song Ronin, is hy gepas in die rol as ’n warrior wat aan geen mens verslag doen nie, maar steeds getrou is aan sy mission. Wat hierdie mission behels, is iets wat jy self moet uitvind wanneer jy na die materiaal luister.

Riyaad Fife het Chase Lutron se request van ’n donker, boombap, minor chorded en emo-istiese feel van ’n soundtrack baie goed opgesom deur die regte atmosfeer te skep vir Chase se gelaaide lirieke. Die musiek is eenvoudig maar strategies opgestel soos die generaal wat sy rede vir oorlog met passie stipuleer voordat sy troepe na die oorlogsveld gaan. Fife het die memo ontvang en sy eie naam gestand te doen deur sy eie mission te vervul. Fife het dus as aerial soldier daarin geslaag om die grond wat Chase op die frontlines moet dek, met die regte lugaanvalle en atmosfeer te support.

In die song Léon, gooi Chase ’n rookgranaat, gevolg met ’n mortier-bom deur met die volgende “hook” die culture te herinner van haar ongewenste elemente. Hy skroom nie om die slange te smoke en te bom nie.

“Djy moet laagdaal as djy met slange wil bladskud Daars ’n kanker innie culture wat ’n man net wil afbring.”

Met die song Ravi versterk Chase sy posisie as ’n skaamtelose geestelike en verklaar homself as iemand wat sy hand in eie boesem slaan maar ook close combat met vooropgestelde idees en sienings. In Ravi rymklets hy: “Asblikke praat van manne is vullis.” en “my walk is ’n portrait gevorm innie donker, maar modern-dag prohets word gevorm deur’ie ponde”

In die song Brooks neem die rymkletser jou na die diepste ondergrond en vind jy jouself saam met die rymkletser tussen grafte en die ongoddelike aksies van die mensdom. Op dié stadium stap hy soos ’n Ronin met sy swaard vol bloed en neem introspeksie van alles om hom, maar ook homself. Dit is close combat en dis nie mooi nie. Die frustrasie van ’n warrior word na die spits gedryf soos Chase ondersoekend in die donker ondergrond inbeweeg om te deal met wat om hom gebeur. Dit is in Brooks waar die rymkletser ook ’n geleentheid het om homself te verfris en skoon te maak voordat hy verder op sy reis gaan.

“Die wêreld het regtigwaar haastig geword, Begrafplaas is vol, waar is’ie nagtegaal songs. Ons almal is ’n gevangene van wat die brein sê. As hulle jou nie kan uitwerk’ie gaan hulle jou wil uit werk.”

In Vito, draai die rymkletser sy hele mood en verander die donker moody warrior feel na ’n hoopvolle beskrywing van hoe die rymklets-warrior sy challenges face. Chase Lutron lig sy lirieke bo die gunshots, bomme wat gedrop word. Hy skets fragmente van hoe die Afrikaans Rymkletgemeenskap hul lewe gee om te doen wat hulle doen. Hy deel uiteindelik houe uit na die sisteem en skyn lig op die “coloured” se daaglikse struggles. Sy lirieke styg bokant die hulpkrete van die culture wat rêrig sukkel en eindig met die hook wat eggo: “Vandag se pyn is môre se wysheid. Ek wil net sien hoe my mense uitstyg. Vir my is dié meer as net ryme skryf djy. Begraafplaas van drome as djy binne my brein kyk”

Blitzkrieg leef op na die E.P se naam en in regte militêre styl, skiet Chase Lutron teen die einde van die E.P nog een skoot met die volgende woorde: “Is mos nou cool om Afrikaans te praat deesdae né?” Indien jy die E.P mooi geluister en gevolg het, sal jy weet dat Chase hierdie battle gewen het, maar dat die oorlog vir die hart van Rymklets, sopas begin het...

Frazer Barry - Musiekant, Skrywer en Klank ontwerper.


BlitzKrieg nou beskikbaar op alle digitale platforms: https://bit.ly/BlitzKriegEP




0 comments